Uit die Hoof se kantoor

Uit die Hoof se kantoor

Geagte Ouer

Baie welkom by Gobabis Gymnasium. Hierdie skool is ’n uitvloeisel van die gemeenskap en is trots in die poging om ons leuse “Excellence” (Uitnemendheid) ten volle uit te leef in alles wat ons doen.

Dankie vir die vertroue wat in die skool plaas om deel te wees van u kind se opvoeding tot ’n holikstiese mens.

Gobabis Gymnasium funksioneer al vir 25 jaar en presteer uitnemend op alle vlakke! Die skool handhaaf ‘n gesonde balans tussen die vyf steunpilare: akademie, sport, kultuur, godsdiens en sosiaal. Die prestasies van leerders op elke gebied van deelname spreek boekdele. Die naskoolse prestasies wat deur ons oudleerders behaal word getuig van die uitnemendheid wat kenmerkend is van die skool en van die gehalte werk wat hier gelewer word. Hierdie sukses word toegeskryf aan uitstekende spanwerk tussen leerders, personeel asook ons ondersteunende ouerkorps.

Akademiese uitslae van eksterne eksamens spreek boekdele van die gehalte onderwys wat leerlinge hier ontvang. Hierdie uitslae wat jaarliks die skool in die hoogste range plaas sê: Welgedaan Gimmies en Gimmie-personeel!

Die skool bied ’n verskeidenheid van sinvolle vakke aan al ons leerders. Die fokus is gerig om ’n leerder aan die gemeenskap en wêreld te gee wat op diverse gebiede kan studeer of in die werksmag in te skakel. 

Ons sportmanne en -vroue blink uit op verskeie terreine en die skool gee graag erkenning aan uitblinkers. Die sportentoesias kan kies; atletiek, krieket, netbal, rugby en skaak. Daar is ook ander gemeenskapskodes waaraan hulle kan deelneem en erkenning gebied.

Die skool spog met die mooiste sportgronde wat enige plattelandse skool kan bied.

Kultuur geniet ook ’n groot premie van ons tyd, veral met die jaarlikse kultuurweek wat voortvloei na die Napso kultuurkompetisie. Hierin kan al die leerders hul uitleef op die planke in toneelstukke, teken en skilder, voordrag, sang, musiek en kookkuns en so hul talente stimuleer en ontwikkel. Die skool neem ook jaarliks ywerig deel aan die idiomestryd en met goeie welslae.  

Ons sosiale kalender is stampvol en dit word as ontwikkeling beskou wat ‘n baie belangrike komponent is van die leerders se ontwikkeling.  Daarom word verskeie geleenthede en funksies gereël om aan hierdie behoefte by kinders en tieners te voldoen. Die Valentynsbal, ander sokkies, die gr.8-konsert, potjiekosdag, is maar van die hoogtepunte waarna ons leerders in die jaar na uitsien en betrokke is.

Ons vat die Bybelvers uit Kolossense 3:23 “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.” Hierdie is ’n belangrike motto op elke gebied van die lewe waarin ’n mens betrokke is. Ons kies om ons tyd, take en aksies tot die eer van God te spandeer en die kinders te lei, op te voed en te bevoordeel tot eer van God.

Die doel van elke faset in die opvoedingskurwe lê in respek tussen leerders en personeel. Hier word hard gewerk, hard gespeel met tyd en moeite wat geinvesteer word om uitnemende prestasies te behaal, maar dit is ook hier waar elkeen sy of haar plek in die lewe vind. Dié skool is beslis nie net passievol oor prestasie op die vef pulare nie, maar ook passievol oor die lewe! Gobabis Gymnasium bied beslis geleenthede vir elke leerder in die skool, so gryp dit aan en lewe! Leer asof jy vir altyd gaan lewe, maar leef asof jou lewe more kan eindig!

Gimmie Groete

Dennis Verrall

SKOOLHOOF